Wanneer is ‘n boom ‘n boom?

Wanneer is ‘n boom ‘n boom?

Deur Naas Grové

President: Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika

Ons kan aanvaar dat wanneer daar na ‘n boom verwys word in die algemene spreektaal word, almal weet wat daarmee bedoel word. Daar is egter geen gemeenskaplike aanvaarde erkende definisie in plantkunde om ‘n boom te definieer nie.

Die algemene erkende definisie van ‘n boom, breed gedefineer, is enige meerjarige houtagtige plant met ‘n regop stam wat die takke en blare ondersteun. Die minimum hoogte word losweg gedefinieer as 1.4 m. In teenstelling met ‘n boom, kan ‘n struik gedefinieer word as ‘n houtagtige plant wat kleiner is as ‘n boom en wat oor die algemeen ‘n geronde vorm het. Weer eens is daar geen wetenskaplike onderskeid tussen bome en struike nie, so die debat oor wanneer iets ‘n boom of ‘n struik is, is meestal ‘n taalkundige en ‘n estetiese kwessie.

Ons stem egter almal saam dat plante basies alle vorme van lewe op aarde ondersteun en dat hul primêre sekwestreerders van koolstofdioksied is en suurstof vrystel deur middel van verskillende fotosintese prosesse.

Soos alle lewende organismes, het bome ‘n baie lang evolusionêre proses van verandering, aanpassings en ontwikkeling ondergaan. Dit is onmoontlik om te bepaal wanneer in die aarde se geskiedenis bome tot stand gekom het. Ons verstaan uit wetenskaplike navorsing dat die eerste koloniseerders van die land, grond-mikrobes, gevolg deur korstmos en mosse was. Daarna het kruidagtige plante, struike en bome ongeveer 460 miljoen jaar gelede, in die middel van ‘n 45 miljoen jaar lange geologiese tydperk, bekend as die Ordovisium Tydperk, verskyn.

Die vroegste bome, uit die Devoontydperk, het tussen ongeveer 419.2 miljoen en 358.9 miljoen jaar gelede ontwikkel. Dit was ook die ontstaan van interne meganismes om water en voediginstowwe te vervoer. Hierdie boomagtige plante het ‘n uitgebreide wortelstelsel gehad, blare geproduseer, tot ‘n hoogte van 30 m of meer gegroei en was van die eerste plante op aarde wat rudimentêre bas ontwikkel het om hul stamme te beskerm wat ook die boommassa kon ondersteun. Robuuste hout is uit ‘n kambium vervaardig, soortgelyk aan hedendaagse bome. Teen die einde van die Perm-tydperk – 252 MJG – het al die plante in die groep uitgesterf.

Deur die geologiese tydreis kan ons begin om plante wat steeds aan ons bekend is, te herken: konifere, ginkgo en broodboomdraende gimnospermplante. Hierdie vroeë saaddraende plante het die landskap oorheers, massa-uitwissings op aarde oorleef en hul produksie van saad gediversifiseer wat aanleiding gegee het tot die baie taksa wat ons vandag ken. Vandag herken almal angiosperme plante aan hul kleurvolle blomme, wat hulle botanies van die gimnosperme onderskei. Gedurende die afgelope 66 miljoen jaar het hierdie angiosperme ‘n wonderlike vermoë getoon om aan te pas by veranderende klimaattoestande en het hulle voortbestaan en   oorleef as die mees diverse groep plante op aarde.

Daar is minstens 60 000 geïdentifiseerde boomspesies op aarde. Lank voordat enige geskrewe rekords van beskawings gehou is, het mense plante versamel, hoofsaaklik vir voedsel- en medisinale redes. Volgens historiese rekords word die vestiging van die eerste botaniese tuin toegeskryf aan Theophrastus (ongeveer 371 – 287VHT) tydens die opkoms van die Griekse Ryk. Dit verklaar ook die Griekse oorsprong van baie van die wetenskaplike plantname. Hierdie intense drang van nuuskierigheid en sy vermoë om te kommunikeer is twee van die eienskappe wat die mens van ander soogdiere onderskei. Dus, wanneer ons iets nuuts leer of ontdek, skep ons nuwe woorde om dit te definieer, wat ons in staat stel om die nuutgevonde kennis met ander te deel. Vir hierdie vindingrykheid bestaan daar geen reëls nie, behalwe dat dit aanvaarbaar moet wees. Vandag het die meeste plante wat beskryf word beide ‘n botaniese sowel as ‘n algemene of gewone naam.

Die agtervoegsel “boom” in gewone taal, bv. huilboerboonboom, witgatboom, peperbasboom, ensomeer voeg eintlik geen waarde toe met verwysing na die naam van die betrokke plant nie. Die verwysing na “boom” verwys eintlik na die versamelnaam vir bome in teenstelling met byvoorbeeld “struik” of “bos”. Groot/klein boom verwys natuurlik na die grootte van die boom. Met die standaardisering van aanbevole algemene Afrikaanse name het die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika se Boomnamekomitee grootliks weggedoen met die voor-/agtervoegsel “boom”.

Daar is uitsonderings op die reël soos, boomaalwyn en boomvaring wat eerder na die groeivorm van hierdie plante verwys om hulle van ander taksa in die twee genera met heeltemal verskillende groeivorme te onderskei. Dit sal dus heeltemal aanvaarbaar wees om ook na ‘n stinkhoutboom of ‘n kremetartboom te verwys, met of sonder die agtervoegsel “boom” aangesien beide na dieselfde plante verwys.


No Comments

Sorry, the comment form is closed at this time.

en_USEnglish