Betekenisvolle ouerword en ouderdomisme

Betekenisvolle ouerword en ouderdomisme

Deur Dr Petrus Moolman

Ouerwordende mense ervaar verskillende en uiteenlopende uitdagings wat in die pad kan staan van betekenisvolheid tydens die ouerwordreis.

Oor baie van dié hindernisse het ons geen of baie min beheer. Tipiese verouderingskwale is gewoon deel van ouerword, behalwe wanneer iemand ongesonde lewenskeuses maak wat gesondheidsrisiko’s verhoog. Hierdie uitdagings hoef egter nie noodwendig die betekeniskwaliteit van die ouerwordende mens se lewe buite beheer te laat tol nie. Betekenissoeke en betekenisgewing is deel van lewenskuns. Betekenisvolle ouerword is nie iets wat met die mens se kennis oor of insigte van veroudering te make het nie. Dit word ook nie verkry deur soveel moontlik kennis van groot gerontologiese (verouderings-) vraagstukke te bestudeer nie. Betekenisvolle veroudering is ‘n lewenskeuse. Hoe jy oor lewe voel, sal bepaal wat jou benadering tot jou ouerword sal wees. Is jy negatief oor lewe, sal ouerword jou “kruis” word. Wanneer jy positief oor lewe voel, sal veroudering tot op die laaste ‘n uitdaging wees.

Dit is ook die rede waarom mense verskillend ouer word. Sommige funksioneer op ‘n lae ouderdom soos iemand wat reeds baie ver op die verouderingsreis is. Ander leef al in groot skaduwees van die laterjare, maar funksioneer soos ‘n jonger persoon! Ons ken almal voorbeelde van sulke mense.

Ons kan dus om goeie redes beweer dat die uitdagings van veroudering ook grotendeels binne ons beheer val. Dan verwys ons nie na die fenomeen van demensie, in die besonder die Alzheimer-demensie, nie. Dié toestande is ingewikkeld en ook nie altyd net ‘n verouderingsverskynsel nie. Ons verwys na die algemene kruispaaie waarop ons almal in die lewe land en veral ook die manier waarop ons oor sulke kruispaaie reageer. Gebeure soos aftrede, die dood van ‘n geliefde of enige erge verlies, is oorgangsmomente in die lewe waarop ons moet reageer en waaroor ons besluite moet neem. Ons moet die brokstukke weer bymekaar kan sit en aanbeweeg. Ons reaksie daarop die gepaardgaande lewensbesluite bepaal die betekenisvolheid van lewe én ouerword. 

Een verskynsel waaraan veral jonger mense hulself dikwels uit onkunde, teenoor ouerwordende mense skuldig maak, is wat ouerdomisme (“ageism”) genoem word. Ouerwordende mense kan hulself natuurlik ook aan ouderdomisme skuldig maak deur op onverantwoordelike en ontoepaslike manier oor én met jonger persone te praat! Iemand het die opmerking gemaak dat ouderdomisme teenoor ouer persone, die enigste “-isme” is wat, indien jy daaraan skuldig is, jouself uiteindelik ook gaan tref – want almal word ouer!

Ouderdomisme kan verskillend gedefinieer en beklemtoon word. Dit dui basies op uitsprake of optrede teenoor ouerwordende persone wat krenkend of neerhalend van aard is of wat die ouerwordende mens van bepaalde voorregte en regte kan ontneem. In die omgangstaal word daar dikwels na ouerwordende mense in verkleinwoordjies soos “oumensies” verwys.

‘n Harde werklikheid is dat persone in die werkplek, wat nog nie die aftrede-ouderdom bereik het nie, dikwels diskriminerend en bloot op grond van kronologiese ouderdom, uit poste gerangeer word. Dit gebeur byvoorbeeld danksy heersende opvattings dat ouer persone nie meer oor die vermoë sou beskik om produkief en effektief kan funksioneer nie. Hierdie optrede hou nie rekening daarmee nie dat mense se lewensverwagting wêreldwyd, vir baie lank reeds bly styg. Mense behou hulle effektiewe en funksionele vermoëns baie langer as in vroeër dekades. Daar bestaan baie redes, insluitend verbeterde mediese dienste, vir dié verskynsel. In baie lande word mense juis op grond van dié ouerword-fenomeem, doelbewus langer in diens gehou ter wille van hul ervaring en vermoëns en wat nie in die werkplek noodwendig gou vervang kan word nie.

Ouderdomisme kan betekenisvolle ouerword op een van twee maniere beïnvloed. Enersyds dui navorsing daarop dat ouerwordende persone wat langdurig onder die emosionele druk van oorbodigheid, onbevoegdheid, nutteloosheid of as ‘n finansiële en sosiale las leef, neig om aan die degeneratiewe proses van veroudering “oor te gee” en uiteindelik so word as wat hulle beoordeel word om te wees. Sulke mense verloor hul selfbeeld en vermoë om self positiewe waarde in die lewe en die proses van veroudering toe te voeg.

Andersyds bevorder ouerwordende persone dikwels self die proses en intensiteit van ouderdomisme! Dit gebeur wanneer persone ‘n lewensingesteldheid inneem wat bepaalde regte en voorregte van “oud-wees” vir hulself, op grond van ouderdom, toe-eien! “Ek is oud daarom skuld die wêreld my.” So ‘n ingesteldheid is die teelaarde van groeiende skeefgetrekte algemene perspektiewe ten opsigte van veroudering en toenemende ouderdomisme.

Die probleem is dat mense wat die lewe as gawe van God vier en daarmee ook ouerword as lewenslange uitdaging nastreef, dieselfde ouderdomisme ervaar.  

Betekenisvolle lewe is ’n lewenskeuse en in ’n sekere sin, ouderdomisme ook!

No Comments

Sorry, the comment form is closed at this time.

en_USEnglish