Straatadres

4de Vloer
The Hillside 318
Menlopark
0102

Posadres 

 Suite 145,
 Privaatsak X19
 Menlopark  
 0102

Navrae

Tel:   012 348 8706
Faks: 012 348 5644
E-pos:  martie.squier@gmail.com
 

     Engels     Nuusbriewe     Aansoekvorm

AGTERGROND  

1.            GrysKrag as vereniging

GrysKrag is ’n landwye organisasie sonder winsbejag wat in 1995 gestig is. Dit is ’n diens- en welwillendheidsvereniging vir persone van vyftig jaar en ouer sowel as vir diegene wat werkloos is as gevolg van vroeë aftrede. 

2.            GrysKrag hou rekening met drie subgroepe van persone bo vyftig

·    Die subgroep 50 tot 65: Hulle is die persone wat op die kruin van hulle loopbaan is, maar wat die vooruitsig het om te begin beplan vir aftrede. GrysKrag gebruik deskundiges in sy geledere om vir hulle die nodige advies in hierdie verband te gee.

·    Die subgroep 66 tot 75: Hulle is die werklike pensioenarisse. Onder hulle is daar ook diegene wie se pensioen al minder en minder koopkrag het vanweë die toenemende inflasiekoers. GrysKrag gee aan hulle advies en hulp in die beplanning van uitgawes volgens hul pensioen-inkomste. Hulle word ook beskerm teen uitbuiting.

·    Die derde groep is die subgroep van 76 jaar en ouer: Hulle is bejaarde persone wat dikwels ’n behoefte het aan daadwerklike ondersteuning in verskillende sfere van die samelewing.

 Die drie ouderdomskategorieë hierbo sluit in hul geledere ’n groot poel van kundigheid, ervaring, spesialisasie en wysheid t.o.v. alle lewensterreine in. Die hoofdoel van GrysKrag is om hierdie menslike hulpbronne te mobiliseer, te organiseer en prakties te aktiveer tot hulle eie voordeel asook die voordeel van andere in Suid-Afrika. GrysKrag gebruik sy kollektiewe bedingingsvermoë ten einde ’n mondstuk, beskermer en verteenwoordiger van seniors te wees tydens onderhandelings met die owerhede.

 3.            Visie en missie

Die visie van GrysKrag is om die waardigheid, lewensgehalte en sosiale sekuriteit van sy lede aktief te bevorder en te ontwikkel ten einde hulle in staat te stel om op ’n voortgesette wyse te funksioneer as deelnemende, verantwoordelike en aktiewe lede van hulle gemeenskappe.

 Die missie van GrysKrag is om sy lede ingelig te hou oor ontwikkelings wat hulle belange raak en om hulle te ondersteun  deur gespesialiseerde inligting en leiding sodat hulle hul persoonlike sake doeltreffend kan hanteer.

 4.            Direksie en werkwyse

Deur die betrokkenheid van deskundige persone in die portefeuljekomitees van die Direksie en samewerking met die tweemaandelikse tydskrif Plus 50 word aandag gegee aan aktuele aangeleenthede soos behuising, gesondheid, veiligheid en sekuriteit, welsynsdienste, sport en ontspanning, ekonomiese aangeleenthede, verbruikersake, regsaangeleenthede en aspekte van aftrede-beplanning.

 Die direksie bestaan uit die volgende persone:
Dr K Prinsloo (voorsitter), Mnr. H Hofmeyr (ondervoorsitter), Prof JC Bekker,  Mnr A Jacobs, Mnr P Joubert, Dr E Malan, dr DW van der Zel, Mnr Louis Lewis en Prof Dries Hauptfleisch.

GrysKrag konsentreer tans op die volgende fokusgebiede:

·       Kennis-en-Vaardigheidsregister (Werkgeleenthede vir seniors)

·       Plus 50-tydskrif

·       Ledesake en -voordele; skakeling met aftreeoorde en senior groepe

·       Ekonomiese en finansiële aangeleenthede

·       Regsaangeleenthede

·       Kuns en kultuur

·       Jaarlikse Ekspo 50+, en viering van Internasionale Dag vir Ouer Persone (Tshwane Metropool)

·       Kortkursus oor kreatiewe veroudering.

 5.            GrysKrag en die Suid-Afrikaanse Konfederasie van Seniorsorganisasies (SACSO)

Bg. Konfederasie (SACSO) snoer ’n verskeidenheid organisasies wat oor die land heen hulle beywer vir die belange van ouer persone, saam in een sterk konfederasie. GrysKrag speel ’n intensiewe rol in SACSO. Drie van GrysKrag se lede dien op die hoofbestuur van die Konfederasie en die tydskrif Plus 50 word ook deur die hele Konfederasie as ’n mondstuk gebruik.

 6.            Ledegeld

Lidmaatskap van GrysKrag beloop R160.00 per jaar. Dit sluit in 6 eksemplare per jaar van die Plus50-tydskrif (per pos afgelewer} , elektroniese nuusbrief , toegang tot deskundige advies deur Gryskrag Direksielede asook 'n voorgestelde lojaliteitskaart met voordele.